Dis Wie Ek Is
Juan Boucher – Dis wie ek is Met sy albums 082..., Jy’s My Flavour, Gee Jou Hart 'n Breek en Kalm voor die Storm het die gewilde sanger-liedjieskrywer Juan Boucher musiekliefhebbers oorrompel en die beoordelaars van treffermusiek beïndruk. “Om ‘n sanger te wees, is nie ‘n keuse nie: dit word vir jou gegee. As jou lande omgeploeg word en jy gebruik dit om met jou pyn, hartseer en teleurstellings te hanteer en om ander te inspireer, is dit ‘n gawe van Bo. As ‘n liedjieskrywer moet dit uit jou hart en siel kom. Musiek vorm ‘n groot deel van ‘n mens se lewe en daarom is dit vir my ‘n voorreg om iets terug te gee,” sê Juan. “Hierdie album is vir my baie belangrik: om te kan sê DIS WIE EK IS! Ek lewe nie volgens die algemene opvatting van hóé ‘n kunstenaar moet lewe nie. Ek geniet wat ek doen, ongeag wat wie van my dink of sê. Dit is ook nie vir my ‘n kompetisie nie; dit is nie vir my werk nie. Dit is vir my ’n droom: ‘n lewe wat baie vryheid gee om te kan doen wat ek doen - sónder om myself te verduidelik.” Dié goueplaat-bekroonde kunstenaar se passie en erns vir musiek is die dryfveer agter en die stempel op sy puik nuwe album, Dis wie ek is. “Die lirieke op my album Dis wie ek is is verskriklik strak, anglisisties en liefdevol - met die idee van oorwinning wat die groot rol speel. Ek wil nie hê mense moet dink ek spartel of struikel nie; ek wil hê hulle moet kan hoor dat musiek vir my ʼn lewe bied. Ek is nie hartseer nie; ek is filosofies. Ek het altyd my loopbaan alleen aangepak en nou het ek ‘n hele span agter my. Ek wil hê mense moet weet dat ek nog baie liedjies gaan uitreik; een na die ander én beter as die voriges. Ek sit myself onder druk om een van die beste skrywers te word sodat my kinders my gedagtes met trots kan ronddra. Ek kan dalk vergaan, maar my musiek nooit ooit nie. Solank my GOD my gesond hou, sal ek skryf en skryf. Solank Hy almal om my gesond hou, kan ek in hul ore fluister: ‘Luister - en hou vas aan jou drome’. Dit werk vir my!” Juan het al die Afrikaanse liedjies op die nuwe album geskryf, met ‘n Engelse bydrae uit die pen van die mede-verwerker, musikant en vervaardiger Byron Keno. “Ek gun myself gewoonlik so paar maande om ’n goeie album te skryf. Ek toer baie deur die land en beleef baie nuwe plekke en nuwe mense. Elke dag gebeur daar iets wat ek nooit sal vergeet nie. Ek hoef nie liedjies te gaan soek nie; liedjies tref my eerste. Ek voel baie geseënd om elke liewe keer ‘n hele album te skryf, pleks van net ‘n paar liedjies. Dié album beteken vir my baie. Dit is vir my soos ‘n nuwe huis wat ’n mens bou met nuwe kamers en nuwe verf op die mure. Dit gee jou daardie lekker gevoel van ek het dit met my eie twee hande gedoen! Soos ek nou al agt jaar lank in die bedryf rondbeweeg, het ek besef my liedjies beteken baie vir mense wat daarna luister. Dit begeester hulle om goed oor hulself en die lewe te voel. My liedjies is my kinders. Ek sien hoe word hulle voor my oë groot. Die grootste plesier vir my is as ek sien hoe een van my liedjies ‘n glimlag op ‘n skaam gesig kan bring; dan glimlag ek terug. “Ek skryf musiek omdat dit die pad vir my teer om my lewe te geniet, terwyl ek nog met my twee voete die aarde in al haar glorie geniet. Die boodskap agter elke liedjie is natuurlik liefde vir mense, want wat is musiek sonder liefde? Ons is tog lief vir musiek en en ons is lief vir mense; dan skryf ons daaroor. Ek is so lief vir al die mense in my lewe. Ek kan nie wag om vir hulle my nuwe liedjies te speel nie en die reaksie is PRICELESS. My liefde, my familie, my vriende, my mense, álmal het ‘n deel van hierdie stukkie geskiedenis wat ek uitreik - genaamd ‘n album. Dis soos ‘n foto-album met herinneringe wat nooit vergete mag gaan nie. Dis ‘n verhaal oor liefde: my liefde, jou liefde, ons liefde en die plesier wat musiek ons bied. Elke liewe woord in elke liewe liedjie het minstens ‘n uur van my lewe geverg - sodat ek seker was elke liewe woord het ’n slaankrag soos die melodie en akkoorde saamvloei. Hieruit spruit die besef drome kan waar word as die kaarte reg val. Agt jaar van vertonings, duisende kilometers van teerpaaie en grondpaaie en die luidsprekers wat my gehoor belemmer. Maar elke liewe naweek van my lewe bring my tot hier en ek is nie een oomblik spyt daaroor nie!” Die trefferliedjies is • Hoe weet jy wie ek is? • Jy’s my gif • Teenoorgestelde liefde • Dans in die donker • Toe jy • Pas so perfek bymekaar • Bêre jou hart vir my • Die sterre spel jou naam • Ons is mekaar s’nne • Ek en jy alleen in die somer • Vure, braaivleis, vriende • Only have eyes for you • Môre lyk dit anders Juan Boucher bied ʼn stewige album in opwindende musiekstyle: van pop en rock tot country en rustige ballades. Dié album weerkaats gedagtes waarin dié sanger-liedjieskrywer diep in die murg delf. Luisteraars sal hulself ook in die liefde, die verhoudings en die vreugde vind waaroor Juan Boucher jubel. “Dis my lewe. Dis my liefde. Dis my eiendom. Dis wie en wat ek is. Dis hoe ek sal bly – want dit is my trots!”